Ai, niks in die lewe bring groter  vreugde vir 'n moeë Kapenaar met 'n  
vis-en-hoenderdieet as 'n langnaweek  in die Karoo of Vrystaat nie. Die  
oggend, middag en aandvleisvure brand  hoog en die vet drup uit die  
vakansiebaarde, dis 'n geil besigheid  man, geil sê ek jou, geil. Jou  
beker loop oor. Soggens is dit  skaapniertjies, middae skaaptjops en  
saans ietsie kleins soos 'n steak of  varkboudjie. Hier beteken 'n  
gebalanseerde dieet 'n tjop in elke  hand. Tussendeur word daar aan  
springbokbiltong of geelvet  beesbiltong gekou om die kieste in oefening  
te hou. Soos met alle goeie dinge kom  daar 'n einde aan alles. 
Die terugtog Kaap toe kom soos 'n  dief in die nag. Daar word uitgestel  
en weggepraat maar vader tyd het gesê  dis Sondagmiddag en so sal dit  
wees. Na 'n skaapvleis ontbyt word  die langpad gevat met 
skaapboud-toebroodjies, biltong en  droëwors vir padkos. Voetslepend en  
klaend word die tasse gepak en gelaai  en met stroewe gesigte word die  
familie gegroet. Die stilte in die  motor is oorverdowend wanneer ons die  
N1 vat terug Kaap  toe. 
Edenburg, Trompsburg, Colesberg,  Spietkop, Hanover, Spietkop, Richmond,  
Kamera flits die dorpe verby. Drie  Susters... amper halfpad en die  
Sondagmiddag trek lang skadu's oor  die Groot Karoo. Ai, as ons maar al  
die skapies langs die pad kon saamvat  vir die mense in die Kaap. Hulle  
weet nie wat hulle mis nie. Glo mos  net aan vis en hoender. Hoender is  
mos die nasionale voël van die  Wes-Kaap. Na Drie Susters kom ek agter  
daar is fout. Groooooot fout!!!! 'n  Pyn van epidermiese proporsies skiet  
my regterenkel binne. Dit moet 'n  beroerte wees!!! Ek sweer dis 'n  
hartaanval... my hart sit juis in my  skoene. Kry mens miskien 'n  
voetaanval, bosluisvoet of  slangvoet? 
Die moontlikhede is legio. Die pyn  neem alles oor. Die kinders wonder  
of pa krismis gaan haal. Liefie wil  weet of ek koors het. "Bel die  
dokter" is al wat ek uitkry terwyl ek  stotterend asem probeer kry en my  
lewe by my verbyflits. Ek trap die  petrol dieper in met my linkervoet  
terwyl trane saggies oor my wange  rol. Hoekom is die Kaap so vêr??  
Vroulief bel die dokter wakker uit sy  Sondagmiddagslapie. Dis NOOD  
broer. Sy vertel in kort, afgemete  sinne wat haar diagnose is. Dok vra  
hieroor en daaroor en waar die pyn is  en of daar ou rugbybeserings is in  
die regtervoet. Dan 'n lang stilte.  Ons albei verwag die ergste en ek ry  
stadiger om die skok beter te  absorbeer. "Nee" sê Dok, "as dit so pyn en  
die pyn daar is en julle die en daai  geëet het, daar geen koors is nie,  
die pyn nie "loop" nie, dan lyk dit  na ghout." 
"Wat het jy in die kar? Het jy enige  iets vir kinders vir karsiek?"  
Dankie tog, dink ek, ons is al by die  merrikasie, ons vorder. "O,  
setpille" hoor ek vroulief sê. "Hy  moet ten minste 100mg inkry". "Maar  
ek het net 15 en 20mg pilletjies"  hoor ek vroutjie sê terwyl ek hard  
dink hoe ek die klomp pille in my gat  gaan opkry. Synde Dok op 
"loudspeaker" is, kan ek darem self  in my toestand uitwerk hoeveel keer  
gaan ek die prosedure moet doen. Toe  Dok aflui staan ek dadelik vas - my  
hol is 'n "one-way" en ek het ook 'n  binneste - "Sal wag tot op  
Beaufort-Wes, daar behoort 'n  noodapteek te wees" sê ek kortaf en handel  
daarmee die gesprek af ter wille van  die kinders. 
Op Beaufort-Wes is 'n noodapteek so  skaars soos reën.. Niks oop op 'n  
Sondagaand nie. "Druk maar deur Kaap  toe" kners ek tussen my tande uit.  
Ek sit nou al kaalvoet met die  lugreëling vol oop op my voet. Vroulief  
maak die kinders en haarself onder  kombersies toe maar sê eerder niks  
nie. Ek wil my voet vries sodat ek  hom kan afbreek en in die kar se boot  
terug Kaap toe ry. 'n Man het sy  trots en ek is geen hoender wat klein  
pilletjies agterstevoorom pik  nie. 
Op Leeu Gamka is al my manlikheid  moer toe - alles is wit van die pyn.  
"Vrou gee maar - dit is nou of nooit,  en ek "nou" liewer as "nooit".  
Vroulief fynkam haar "toolbox" en kom  met die fantastiese nuus - "Hiers  
nog 'n 100mg setpil". Dankie tog.  Elke pyn het sy eie gewig. My pyn voel  
baie swaarder as 100mg maar met  pilletjie in die hand bestorm, of was  
dit nou bekruip of huppel ek na die  plek van verligting by die Ultra  
City. Hierdie ding moet net werk,  dink ek by myself en probeer moed skep  
en myself opwerk en motiveer vir dit  wat voorlê. 
Ek worstel en sweet, maar ek weet hy  MOET in, my moed gaan dit nie 'n  
tweede keer maak nie. Dit voel vir my  of ek die "bulls eye" van 'n  
dartboard van die agterkant af op een  been moet kry terwyl ek die ander  
mense in die kleedkamer met fyn en  sagte kreungeluidjies vermaak. Die  
ding voel soos 'n  pynappel. 
Na dit vir my gevoel het soos ure se  gesukkel is ek terug kar toe en  
ons vat die pad verder Kaap toe. Die  kinders wil weet hoekom pa se oë so  
groot is en of ek vir hulle  Rooikappie en Wolf gaan opvoer om die pad om  
te kry. Niemand sê verder iets nie en  tot vroulief bly tjoepstil, sy  
weet wanneer vraetyd verby is. Dit is  so stil in die kar dat die kinders  
snoesig aan die slaap raak. Ek sit  nogsteeds met my pyn en trap die  
petrol al hoe dieper om in die Kaap  te kom. My voet pyn en my hol brand  
soos 'n koeëlwond. Ek voel vuil, soos  iemand wat verkrag is en die  
gebeure in die toilette op Leeu Gamka  is vir ewig in my geheue 
ingeprent. Wonder of ek nie 'n  sielkundige moet gaan sien as die pyn  
eers weg is  nie? 
By Laingsburg probeer vroutjie 'n  geselsie. "Voel jy al beter, Skat?"  
"NEE, fok maar dis 'n skerp pil  daai." Ek is sommer die moer in vir als  
wat wit jasse dra. "Wat bedoel jy met  'n skerp pil?" wil vroulief weet.  
"Daar is dan blêrriealluminium om die  pil man. Ek moes die pil omtrent  
pannelbeat om die meeste van die  skerp kante plat te kry. As ek die ding  
net so in my hol gedruk het sou ek my  teen die tyd al inwendig 
doodgebloei het" verduidelik  ek. 
Die volgende oomblik smaak dit vir my  vroulief het as 
selfmoordbomplanter by Elkaida  gekwalifiseer. Sy ontplof dat die kinders  
se lyfies so ruk en hulle met hulle  handjies bokant hulle koppe gryp in  
hulle slaap. Ek het haar laas so hoor  lag toe sy gehoor het van haar  
eerste swangerskap. Sy sien die  moerse vraagteken op my voorkop en sy  
bulder dit uit: " JY MOES DIE  ALLUMINIUM AFHAAL JOU POEPOL!!!!!!!!!" Met  
die trek sy haar selfoon nader en ek  weet die kak word nou weer vir al  
haar vriendinne vertel. Dat die  verskriklikste pyn in my voet en 'n  
brandpyn in my gat nou vir iemand so  snaaks kan wees. 
Ek moes myself verdedig. "Maar ek dog  dit werk soos 'n kapsule. Mens  
breek mos nie 'n kapsule oop nie,  netnou vergiftig jy jouself met 'n  
oordosis, die besigheid moet mos  stadig mens se sisteem bekruip." My  
manlikheid en intelek is daarmee  heen. Die hele wêreld gaan dit ook nou  
weet. Vroulief mishandel behoorlik  die selfoontjie om die nuus oor die  
heelal te versprei terwyl sy saggies,  amper geheimsinng giggel en  
geluidjies van plesier maak. Ek kry  simpatie met mans wat hulle vrouens  
moer.  
Dok is natuurlik die eerste om van my  ongelukkie te hoor. Hy kan sommer  
my lyding oor die internet uitblaker  en die eer kry vir die beste  
mediese joke van die maand. Dokters  is almal etters. Geen setpil sal  
ooit weer dieselfde wees nie. Hoe  gaan ek die wêreld weer in die oë kyk?  
Gaan ek ooit herstel van my ure van  lyding en vernedering in die  
toilette op Leeu Gamka? Ek raak  hartseer en verlang terug na die tere  
liefde en simpatie van my  moeder. 
Volgende oggend is ek natuurlik 'n  "celeb" by die werk. Almal wil net  
bemoedigend aan my vat of 'n ou  geselsie aanknoop. Wil weet of ek nou 'n  
"stainless steel silencer" het. Ha ha  ha - lag vir jou gat man! Ek wens  
julle kry die pyn wat ek in my voet  gehad het in julle "silencers", dan  
praat ons weer. Klomp  ape!!! 
Ek weet nou nog nie of die setpil  gewerk het nie. Ek sal moet wag tot  
al die aluminium "corode"  het.

 
 
VOKKEN CLASSIC... Armand
ReplyDelete